Missie Miga Bediening bied in opdrag van God drie-enig, aan wedergebore Christene bevryding en emosionele herstel deur 'n proses van Woordgefundeerde opleiding, gebedsterapie en berading om sodoende hulle volle potensiaal in Christus te bereik.
Visie Miga Bediening bedien wedergebore Christene nasionaal in geestelike-, emosionele- en fisiese herstel om sodoende hulle volle potentiaal in Christus te bereik.
Waardes
- Integriteit : ons verbind onsself daartoe om konfidensialiteit te handhaaf, te hou by ons woord en nie kompromieë te maak nie.
- Geestelike Volwassenheid: ons verbind onsself daartoe om 'n intieme verhouding met God drie-enig te handhaaf deur absoluut gehoorsaam te wees aan God, Sy stem te ken en ons eie roeping te verstaan en daarin te wandel.
- Emosionele Volwassenheid: ons dien mekaar in respek en liefde, is leerbaar en oop vir teregwysing en dissipline.
- Selfverantwoordelikheid: ons aanvaar elkeen verantwoordelikheid vir ons eie gedrag en geestelike groei en kies om volwasse op te tree.
- Vergewensgesindheid: ons dien ander deur geduld met hulle foute te hê en hulle weer 'n kans te gee.
| - Ons glo in die Ou en Nuwe Testament, Die Bybel, (die oorspronklike teks en geskrifte) as die geiïnspireerde en onfeilbare Woord van God; die enigste en finale outoriteit in hierdie lewe.
- Ons glo in een God, God drie-enig wat bestaan uit drie persone – Vader, Seun en Heilige Gees.
- Ons glo in Jesus Christus, waarlik God en waarlik mens, die enigste en ware Seun van God, gebore vanuit die maagd Maria, verwek deur die Heilige Gees van God.
- Ons glo dat God die mens geskape het na Sy beeld en dat die mens deur die sondeval die ewige dood (fisies en geestelik) verdien as straf vir die sonde; ons glo dat die mens in sonde ontvang en gebore word en oor ‘n sondige natuur beskik wat ‘n persoonlike verhouding met God onmoontlik maak sonder sondebelydenis, vergifnis en verlossing.
- Ons glo dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het as die enigste offer vir sondes volgens die Skrif en dat almal wat in Hom glo en Hom bely as die Verlosser verlossing ontvang deur Sy bloed wat gevloei het aan die kruis.
- Ons glo dat Jesus Christus uit die dood opgewek is, dat Jesus Christus opgevaar het na die hemel en vandaar regeer aan die regterhand van God as ons enigste Hoëpriester en Advokaat.
- Ons glo dat elke mens wat sy sondes bely, Jesus Christus aanneem as Verlosser deur die geloof en wedergebore word deur die Heilige Gees, kinders van God is.
- Ons glo in die vervulling met die Heilige Gees en dat die Heilige Gees gelowiges toerus vir hul dienswerk aan die Heiliges deur die gawes van die Gees tot opbou van die liggaam van Christus. Ons glo in die vyf-voudige bediening van Apostel, Profeet, Evangelis, Herder en Leraar.
- Ons glo in die opstanding uit die dode van die geredde asook die ongeredde mens, die ewige seën van die verlossing en die ewige dood van die wat die verlossing deur Jesus Christus bewerk verwerp.
- Ons glo dat die liggaam van Christus deur die Heilige Gees in eenheid moet funksioneer en toegerus word deur die Heilige Gees en onderworpe is aan die gesag van Jesus Christus.
- Ons glo dat Jesus Christus twee sakramente ingestel het – die Doop (na bekering) en die Verbondsmaal.
- Ons glo in genesing deur die werking en salwing van die Heilge Gees en dat genesing integraal deel uitmaak van die Bybel.
- Ons glo dat die Bybel leer dat sonder heiligmaking geen mens in 'n dinamiese verhouding met God kan staan nie. Ons glo in die heiligmaking as ‘n progressiewe werk van genade vanaf geboorte tot en met die aardse dood.
- Ons glo dat God die vrou gemaak het as die helper van die man en dat elke man sy vrou moet liefhê soos die Woord dit beskryf asook dat ‘n huwelik slegs kan plaasvind tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag, ‘n biologiese man en ‘n biologiese vrou.
- Die Miga Bediening is oop vir enige waarheid en openbaringskennis wat die Heilige Gees mag openbaar deur die Woord van God.
|